Afrikaans

Afrikaans / Zuid-Afrika

Op dié bladsy staat: Wie is jou Raadgever? / Jy het Jesus nodig / Laat ons bid / My kers gebed

Wie is jou Raadgewer?
Radio oordenking en gebed deur: 
Evangelis Sieberen Voordewind
Radio Hoogeveen (Nederland)

Liewe Luisteraar, gedurende hierdie uitsending wil ek graag gesels oor die volgende onderwerp:"Wie is jou Raadgewer?" Maak asseblief jou hart oop vir die Woord van die Lewende God terwyl jy luister, en ontvang God se ryklike seën.
Die Bybel sê die volgende: "...elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie." (Romeine 9:33) Wat jou probleem ookal mag wees, in die Bybel lees ons van 'n man wat eens op 'n tyd ernstige moeilikhede ervaar het. Sy naam was Jósafat. Die Bybel sê die volgende oor hom in 2 Kronieke 20:2 en 3a: "Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom 'n groot menigte teen u van anderkant die see ... het Jósafat bevrees geword..." (AOV)
Miskien ervaar jy, net soos Jósafat, ernstige probleme of leef jy in vrees. 'n Vrees vir die toekoms of vrees om alleen te wees, dalk vrees vir bankrotskap, of selfs vrees vir die dood. Miskien is jy bang dat jy nie uit jou moelike situasie sal uitkom nie. Dit maak nie saak wat jou behoefte of jou vrees is nie, die vraag is, "Wie is jou Raadgewer?" Ja, na wie toe gaan jy vir advies betreffende jou probleme en vrese? Doen wat Jósafat gedoen het! Die Bybel sê, "... Jósafat (het) bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek." (AOV) Hy het besluit om die Lewende God se Aangesig te soek met betrekking tot sy probleem. Dié God wat volgens Sy Heilige Wil en in Sy eie tyd elke gebed hoor en verhoor. Die Bybel sê in vers 3 & 4, "...en hy het oor die hele Juda 'n vasdag uitgeroep. En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek..." Prys die Here! Jósafat het sy toevlug nie in mense nie maar in die HERE gevind. Menslik gesproke was sy situasie hopeloos, en ons lees hoe hy bid in vers 12, "...Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie..." Miskien ervaar jy ook onvermoë in jou hantering van die omstandighede waarin jy jouself bevind. Menslik gesproke is jou situasie hopeloos! Jy kan jou weg nie oop sien om daaruit te kom nie. En, soos Jósafat, sê jy ook, "...ons weet nie wat ons moet doen nie..." Jy weet glad nie wat om te doen nie. Maar wié is jou Raadgewer en Adviseur? Na wie toe gaan jy wanneer jy hulp nodig het? Jósafat het na God gegaan en gebid, "... maar ons oë is op U." Hy het nie meer die rebellie en weerstand gesien nie, maar hy het sy oë in die Geloof op die Lewende God, met Wie alles moontlik is, gevestig. Die Bybel sê in verse 14-17 dat terwyl hy gebid het, "Toe kom die Gees van die HERE in die midde van die vergadering op Jahásiël; en hy het gesê: 'Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat (en ook jy wat na hierdie uitsending luister)! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle ... Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.'"
Ja, terwyl hy en die ander in gebed was, het die Heilige Gees met die antwoord tevore getree. Hoe wonderlik! En danksy Sy Genade besit ons die beste boek, geïnspireer deur die Heilige Gees en wat alle antwoorde vervat. Ons noem hierdie Boek, die Bybel!
In die Bybel sê God aan jou, "Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie ... Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom..." (Jeremia 33:3-6)
Indien jy die Lewende God sou toelaat om die Raadgewer in jou lewe te wees, sal Hy met jou praat deur gebed, die Bybel, en op ander maniere.
Sy hulp is die beste hulp! Sy advies is die beste advies. Doen wat Jósafat gedoen het en maak nou die besluit om vir hulp aan te klop by die allerbeste Raadgewer - die Lewende God. En net soos met Jósafat, sal die Here jou opregte gebed hoor. En in Sy tyd, sal Hy jou antwoord.
Nadat God Jósafat beantwoord het, lees ons, "Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid." (2 Kronieke 20:18)
Selfs voordat sy probleme opgelos was, het hy reeds God se advies geglo, voor Hom neergebuig en Hom aanbid.
Wanneer God met ons praat deur gebed of deur die lees van die Bybel, is dit nie nodig vir ons om die oplossing met ons fisiese oë kan sien nie. Dit is eerstens noodsaaklik dat ons God se antwoorde en advies glo voordat ons die oplosing sien. Jesus het in Markus 11:24 gesê, "Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry." Glo vas dat jou gebed alreeds verhoor is deur God nog voordat jy enige veranderings kan voel of sien. Begin om Hom te loof en te dank vir jou wonderwerk. En net soos met Jósafat, sal God jou gebed verhoor volgens Sy Wil. Volgens God se tydsbepaling sal jy dan ook uit die dieptes van jou moeilikhede en probleme uitstyg en soos Jósafat sal jy in vreugde en vrede wandel. Ons lees meer hieroor in God se Woord:
"Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die HERE het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande. En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die HERE. En die skrik (vrees) vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel gestry het. Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus (vrede) verskaf." (2 Kronieke 20:27-30)
Loof die Here! Alles wat die Lewende God vir Jósafat gedoen het, wil Hy ook vir jou doen in die Naam van Sy Seun, Jesus van Nasaret, wat na hierdie wêreld gekom het om sondaars te heilig en te regverdig.
Daar waar jy jou nou op hierdie oomblik bevind, in jou voorhuis, die tronk, in jou motor, karavaan, waar ookal; Laat ons die Troon van God in Geloof nader:
"O, Almagtige God en Vader. In die wonderlike Naam van Jesus Christus, kom ek na U toe, saam met hulle wat behoeftig is en wat na hierdie uitsending luister. Ons twyfel nie en glo vas dat U groter is as enige behoefte en nood. Daarom vra ek U: Laat U reddende, vrymakende, bevrydende, en genesende Krag vanuit U Gees kom op hierdie oomblik! Genees die siekes, bevry van pyn, bevry van bindings en geestelike slawerny, vrese en verslawings! Neem elke finansiële probleem weg, en voorsien in elke behoefte. O, Here, kom na die luisteraars toe met U Goddelike Krag en Salwing, sodat na hierdie uitsending, hulle lewens nooit weer dieselfde sal wees nie. Ek dank U dat vanuit U Genade U hierdie gebed verhoor en beantwoord en dit in U Eie tyd. Ek loof en eer U Heilige Naam!"
En, my beste vriend: ontvang genesing, vryheid, oplossings en ontvang die magtige Salwing van God se Gees in Jesus se Naam! Glo dit en dank Hom daarvoor!
En moet nooit vergeet: Wie is jou Raadgewer?
Ek wens jou God se ryk en magtige seën in die heerlike Naam van Jesus Christus, die Naam bo alle Name. Amen!


Jy het Jesus nodig
Radio oordenking en gebed deur: 
Evangelis Sieberen Voordewind

Liewe luisteraar, daar is Een wat jou Beste Vriend wil wees. Daar is Een wat jou baie lief het. Daar is Een wat jou trane sal afvee tydens jou hartseer en droefheid. Daar is Een wat jou binneste wil genees van innerlike wonde en pyn. Dié Een is Jesus Christus!
Ja, as God se gesalfde dienskneg, wil ek jou die weg toewys na die Here Jesus Christus, die Seun van die Lewende God. Miskien vra jy: "Maar, Evangelis Voordewind, waarom wys jy net na Jesus toe en nie na iemand anders nie?" Luister na wat Jesus sê. In Johannes 14 vers 6 sê Hy, "...Ek is die weg en die waarheid en die lewe..." Is jy soekende na die waarheid? Jesus is die Waarheid. Is jy op soek na die beste geloofslewe op jou lewensweg? Jesus is die Weg. Is jy soekend na die ware lewe? Jesus is Lewe. Is jy op soek na die suiwerste vorm en toonbeeld van liefde? Jesus sê in Johannes 15:9, "Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad." Ja, Jesus het jou lief! En, is jy op soek na innerlike vrede? Jesus sê in Johannes 15:19: "...my vrede gee Ek aan julle..." Die Here Jesus wil jou hart vul met vrede onder alle omstandighede. Is jy alleen? Jesus sê in Matthêüs 28:20, "...Ek is met julle al die dae..." Wanneer jy Jesus navolg, sal Hy al jou dae saam met jou wees. Wil jy hê Jesus moet by jou wees? Volg Jesus! Ja, wat jy ookal benodig vir geloof en die lewe: Jy het Jesus nodig. Ek verwys altyd mense na Jesus toe, want daar is geen ander manier om 'n verhouding met die Lewende God te hé nie. Ek verwys jou na Jesus, want daar is niemand anders wat mense kan red nie. Daar is niemand anders behalwe Jesus nie. Dis Jesus en Jesus alleen! Ek wens jou 'n vreugdevolle lewe toe saam met Jesus. Amen!


LAAT ONS BID
"Laat ons dan die Genadetroon met vrymoedigheid nader, sodat ons (ek en jy!) barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word."
Hebreërs 4:16.
Ek bid, "O, God, in die Naam van Jesus Christus, kom ek na U toe met hierdie man, vrou, seun of dogter wat hulp nodig het. Ek vra dat U hierdie persoon nou aanraak met die Krag van U Gees, in die Naam van Jesus. O, Heer, genees hierdie persoon een-honderd persent. Bring genesing van kop tot toon. Ons bid vir elke probleem, wat dit ookal mag wees, gee 'n wonderwerk. My liewe vriend, ontvang genesing in Jesus se Naam."
"Ontvang bevryding van alle probleme in Jesus se Naam. En, ontvang die Krag van die Heilige Gees. Ontvang die Salwing. Ontvang dit nou, in die Naam van Jesus Christus, en word vry. Amen!"
"Maar Hy (Jesus) is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy (Jesus) verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom." (Jesaja 53:5)
En, moenie vergeet nie: God is altyd groter as jou behoeftes en nood! God het jou lief.
JOU LEWE SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE.
Vertaling deur: Jan & Annika van Rooyen
(Directors RAIN International SA, www.raininternational.co.za )


MY KERS GEBED:

Magtige God en Vader, in die wonderlike Naam van Jesus Christus kom ek voor u met my broer / suster wat hierdie gebed lees. O Here, ek dank U dat U elkeen so lief gehad het, en steeds het, dat U U eniggebore Seun gegee het so dat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal he. Dankie dat U altyd groter is as ons eie nood en daarom bid ek: laat tog U reddende, helende en liefdevolle krag uitgaan na elke broer / suster in Christus. Voorsien asseblief in elke nood, hoe klein of groot ookal. Vertroos die wat verdriet beleef. Genees die siekes. Gee innerlike genesing waar stukkendheid is. Laat die eensames U wonderlike nabyheid ervaar. O Here, raak ieder en elkeen met U liefde aan wat hierdie geloofsgebed lees in Jesus Naam. Ek dank u dat U elke gebed aanhoor wat na U heilige wil is, op U eie tyd. My siel loof en prys U heilige Naam. Amen. "My beste vriend(in): Ek wens jou God se ryke en magtige seen toe."
(Translated by: br. Frank Theron)

For more articles (in ENGLISH) click on: